My kollega Dwayne het pas 'n interessante stuk geskryf oor die gebruik van deurlopende integrasie vir die toets van ons produkvertalings. Nou wil ek begin dink aan hoe ons dit kan uitbrei met pofilter.
Een verskil tussen msgfmt en pofilter is dat msgfmt enkele streng toetse het waaraan vertalings moet voldoen. Daarenteen het pofilter 'n klomp kwaliteittoetse waarvan nie almal doodsake is nie. Terwyl die toetse soms verkeerdelik kla oor iets wat fout is, dink ek amper meer aan pofilter as iets soos "lint" — iets wat jou help om die vertalings skoon te maak en te verbeter, maar dis nie alles noodwendig krities belangrik nie (sommige daarvan is natuurlik wel krities belangrik).
Daarom praat ons nou oor hoe om vals positiewes te kan merk sodat pofilter nie in die toekoms daaroor sal kan kla nie (soortgelyk aan hoe mens lint-toetse kan stil maak met kommentaar). 'n Inskrywing in die lyntjies wat met #, begin sou ideaal wees, maar die gettext-programme behou nie enige niestandaard inskrywings daar nie. Dus sal dit waarskynlik in die kommentaar moet wees. Dit het die voordeel dat 'n vertaler maklik dié velde kan redigeer soos kommentaar.
Maar as dit in die kommentaar is, hoe gemaak tydens die opgradering van vertalings? As msgmerge of pot2po 'n eenheid wasig merk (die Engels het verander), dan sal mens tog wel die kwaliteitstoets weer wil doen, maar daar sal nou 'n merker wees wat sê dat dit nié moet gebeur nie. Dit sal ideaal wees as ons 'n verandering in die msgid óf msgstr sal bespeur en eenvoudig die toetse in elk geval uitvoer.
Ek dink daaraan om 'n hutswaarde in te voeg, maar dit sal natuurlik nie so mooi lyk nie, en is nie meer maklik redigeerbaar vir 'n mens nie.