Ek het onlangs uitgevind dat Google Chrome ook spelling kan toets in teksareas. Dit het my laat terugdink aan hoe dinge in hierdie gebied verander het in die afgelope paar jaar.
As ek reg onthou, het ek in antieke dae na Konqueror oorgeslaan omdat dit op daardie stadium die enigste blaaier was wat dit vir my kon doen. Ek het baie tyd by Wikipedia deurgebring en het 'n Afrikaanse speltoetser nodig gehad. Dít was ook juis die tyd toe my belangstellings in speltoetsers opgevlam het en ek meer betrokke geraak het by Translate.org.za.
Op 'n stadium kon mens toe met die SpellBound-uitbreiding in die destyds nuwe Firefox ook spelling toets, en sedert weergawe 2 as ek reg onthou, kon Firefox dit vanself doen. Dis interessant om te sien dat SpellBound steeds beskikbaar is vir mense wat klomp teks op 'n slag wil nagaan.
Na bewering kan Opera Aspell gebruik, maar dit werk nie op my rekenaar nie, en ek het al gehoor mense sukkel daarmee. Vir baie tale is Aspell ook nie juis wafferse tegnologie nie, en meeste tale deesdae gebruik Hunspell.
Op Mac OSX is daar natuurlik die stelselwye speldiens wat alle programme kan gebruik. Dit is hoe dinge moet werk, en soos ek verstaan is dit ook so in KDE4. Dit is definitief op my wenslysie vir GNOME 3. Ten minste het Gtkspell nou al oorgeskuif na Enchant wat dit moontlik maak om Hunspell en ander spelstelsels te gebruik. Vir dié wat dalk Hunspell as speltoetser in OSX wil gebruik, kyk gerus na OpenXSpell. Dié projek hou baie belofte in.
Dit was dus interessant om te sien dat die Google se blaaier Chrome ook spelling kan toets, en dat dit Hunspell direk gebruik. Lees gerus hulle instruksies en vra vir die insluiting van enige ontbrekende woordeboeke (hulle verpak nie tans al die beskikbare woordeboeke nie). Ain Vagula sê sy versoek is binne 'n paar dae toegestaan. Olivier R het bygevoeg dat daar 'n beperking is, alhoewel hierdie hopelik nie veel mense sal affekteer nie.
Dit was ook interessant om te sien dat hulle dit in hulle eie formaat stoor, klaarblyklik sodat dit vinniger gelaai kan word. Miskien sal OpenOffice.org en Firefox ook by so-iets kan baat?
Comments
Chrome in Afrikaans?
Goeie artikel, dankie.
Weet julle dalk of Chrome, soos Firefox, 'n Afrikaanse weergawe het?
Groete.
Frank
Re: Chrome in Afrikaans?
Ek is redelik seker dat daar nie 'n Afrikaanse weergawe is nie. Ek het ook die indruk gekry dat Google nie regtig op hierdie stadium hulp wil hê met die vertaling van Chrome nie, wat dalk beteken dat hulle dit als intern sal wil doen, of deur hulle eie vertaalstelsel waarmee al die Google-produkte vertaal word - wat nogal jammer sal wees.