Ek is al by herhaling teleurgestel deur die lae standaarde van Beeld se webwerf. Afgesien van taalaspekte wat soms verras, skiet hulle erg tekort op my verwagtinge aan die tegniese kant. Ek't onlangs 'n fout met hulle karakterenkodering gesien wat my nou juis laat skryf.
Hierdie is nou geensins die eerste probleem wat ek teëkom by Beeld nie. Ek het al heelwat probleme gesien in Beeld se RSS-voer, bv. dat 'n opskrif oor 'n paar lyne strek, of dat letters met diakritiese tekens as HTML-entiteite deurkom. Verder gee hulle slegs tien inskrywings op 'n slag, maar publiseer oënskynlik elke oggend 'n hele spul gelyktydig, met die gevolg dat ek net die laaste tien in my RSS-leser kry. Afkappingstekens en spelfoute in die webweergawe kan seker toegeskryf word aan 'n groter fokus op die drukweergawe. Máár, mens sou darem hoop dat hulle die eenvoudigste dele van HTML sou regkry vir die webwerf, soos die karakterenkodering — blykbaar nie.
Ek het onlangs my verstekenkodering in my blaaier gestel op UTF-8 — dis 'n tegniese ding wat min mense sal interesseer. Vir Firefox het ons die verstek op ISO-8859-1 gestel vir Afrikaans wat ek glo 'n baie sinvolle verstekwaarde is. Hierdie instelling is net van toepassing as daar gekyk word na dokumente wat nie 'n enkodering spesifiseer nie. In my geval gebeur dit hoofsaaklik wanneer ek kyk na aanhegsels in Bugzilla, en meeste van die dinge waarna ek kyk van dag tot dag is in UTF-8. Van daar dan my keuse. Sedertdien lyk Beeld se slagspreuk nou egter só:

Soortgelyke probleme verskyn op 'n paar plekke op die voorblad. Soek gerus vir "Vroe?re Stories". Ek bevestig toe vinnig dat Beeld se webblaaie geensins 'n enkodering spesifiseer nie. Die interessante ding is dat die bladsye oënskynlik hoofsaaklik ASCII gebruik met HTML-entiteite vir alle diakritiese tekens.
Kyk gerus hoe kla Feedvalidator oor Beeld se RSS en die W3C se HTML-valideerder oor die voorblad self. Mens sou dink dat hulle darem so nou en dan hierna sou kyk en die ergste probleme sou probeer uitsorteer.
Op die oomblik probeer ek outomatiese bespeuring van die enkodering. Hopelik is dit nie te stadig nie.
Comments
Vignette en wee-wee-wee sindroom
As jy na 'n Beeld bladsy se HTML kyk, sal jy sien dat dit alles deur Vignette veroorsaak is - 'n program waarvoor Naspers lank terug seker 'n redelike sommetjie betaal het. Ek neem aan dit veroorsaak dat hulle nou te suinig is om die tekortkominge raak sien - maw hulle karring nou maar so aan want Vignette was duur.
In die algemeen lyk dit of Naspers maar min omgee vir Afrikaans, en nie regtig wil belê om oordentlike web-koerante te maak nie. Die manier hoe al hul koerante (behalwe Die Burger) die news24 domain gebruik is vermoedelik ook 'n gevolg van suinigheid - alles werk waarskynlik op een Vignette installasie.
Verder ly Nasionale Pers ook aan wee-wee-wee sindroom, want hierdie skakels werk nie:
http://beeld.co.za
http://volksblad.co.za