Ek het 'n rukkie terug begin met 'n reeks oor pseudolokalisering met podebug. Ek het gewys hoe mens die vertaalbaarheid van 'n program kan toets met die xxx-reël, en die uiteindelike prentjie het toe gewys hoe dit lyk as daar 'n string uit 'n ander lêer betrokke is. Kom ons kyk nou na 'n manier hoe vertalings uit verskillende lêers makliker uitgeken kan word.
Dit is algemeen dat sagteware van heelwat biblioteke gebruik maak, en dus ook van dié biblioteke se vertalings. In die geval van GNOME-programme (wat van GTK+ gebruik maak), word daar gewoonlik 'n paar algemene stringe uit GTK+ se vertalings gebruik vir van die algemeenste dinge wat herhaal. Byvoorbeeld: Kopieer, Plak, Voorkeure, ens. Dié stringe word dus nie gewoonlik vertaal in die program se vertaallêer self nie, maar in die lêer vir GTK+. Vir vertalings van OpenOffice.org of van Mozilla-programme, is die vertalings versprei oor verskeie lêers, wat dit soms moeilik maak om te weet watter stringe uit watter lêers kom.
podebug --format="[%7b]" virtaal.pot fr.po
Met hierdie opdrag skep podebug 'n PO-lêer gebaseer op die POT-lêer, en "vertaal" dit sodat dit as volg lyk:
#: ../share/virtaal/virtaal.glade.h:8
msgid "General"
msgstr "[virtaal]General"
In die program, lyk dit dan só:

Ons vra dat podebug 'n geformateerde string vooraan die vertaling sit met die eerste 7 karakters van die lêernaam waaruit die vertaling kom. In hierdie skermskoot sien ons dat al die vertalings uit Virtaal se lêer kom, behalwe "About" wat uit GTK+ uit kom. Daar is verskeie moontlikhede vir die formaatstring om die lêer- of gidsnaam voor te stel. Lees gerus meer op podebug se webblad.
Hier is 'n meer komplekse voorbeeld waar 'n paar lêers geannoteer is deur podebug:

Hier sien ons dat die inskrywings op die kontekskieslys uit GTK+ uit kom, dat die string "Fuzzy" uit Virtaal kom, dat die taalnaam uit ISO 639 kom, en dat die landnaam uit ISO 3166 kom. Ek verwys natuurlik hier na die vertalings uit die pakket iso-codes wat deur Christian Perrier van Debian-faam onderhou word. Daar word dus hier vertalings uit vier plekke bymekaargetrek.
Hierdie bied dus 'n manier om te sien hoe vertalings uit verskillende lêers gekombineer word.