Ek is deur 'n paar vriende oortuig om 'n geleentheid te reël om 'n paar mense bymekaar te kry om bietjie te vertaal. Dwayne is so gaaf om die Translate.org.za-kantoor aan te bied vir die geleentheid.
Dis sommer 'n geleentheid vir diegene wat belangstel in Afrikaanse lokalisering vir bietjie touwys maak, bietjie kuier, bietjie vertaal, bietjie inspireer, ens. As iemand belangstel om by ons aan te sluit, moet hulle my so gou as moontlik laat weet, ter wille van die reëlings en koördinasie.
Translate.org.za se kantoor in Groenkloof, Pretoria. Daar is heelwat woordeboeke, vinnige internet, en sitplek vir 'n paar mense.
As mense virtueel wil aansluit, kan ons dalk iets reël, alhoewel dit dalk makliker gaan wees by 'n volgende geleentheid. Laat weet gerus.
Saterdag, 29 Mei 2010
Ons begin 10:00 en hou aan tot so 12:30 of omtrent middagetenstyd. Daarna kan die wat wil sommer bietjie kuier terwyl ons iets ligs eet.
Voorstelle van programme om te vertaal is welkom. Alhoewel ons eintlik aan omtrent enigiets kan werk wat iemand wil doen, raai ek 'n paar van ons gaan aan hierdie projekte wil werk (party het reeds begin):
Dasher
Xiphos
GNOME se speletjies
gedit
Meeste van hierdie programme loop op Linux en Windows, en 'n paar nog op OSX ook. Daar is reeds gedeeltelike vertalings vir al hierdies om mee te werk.
Verder wil ek graag werk aan die verbetering van die komende GNOME 3, en ek sal graag dat ons kyk na iets wat daartoe bydra.