| | AFRIKA BOU OORSESE IT-BEDRYF Ons het byna almal gehoor van die beraamde statistiek oor roofgebruikers en hoeveel “verloor” word omdat mense sagteware roof pleks van dit te koop. Vandag wil ons u vertel hoeveel gebruikers gewen het deur net óns webtuiste te gebruik gedurende Oktober met die gratis aflaai van een van die beste kantoorsuite wat beskikbaar is - OpenOffice.org. Net van óns webtuiste is 254 kopieë van OpenOffice.org in dertig dae afgelaai. Dit beteken 'n wins (in teenstelling met idee van verlies) van om en by R1-miljoen! Wie se wins was dit? Nie dié van Translate.org.za nie, alhoewel dit ons erge hoofbrekens sou spaar, maar dié van die algemene publiek. Mense het net in Oktober omtrent R1-miljoen bespaar deur sagteware wettig af te laai in plaas daarvan om 'n ander suite te koop wat presies dieselfde doen. Ntsika Msimang van die Meraka Open Source Centre, wat self oorgeskakel het na Vrye Sagteware, verstrek statistiek wat mens bang maak: “Die staat se IT-agentskap bestee tussen R4- en R10-biljoen per jaar aan sagtewarelisensies. As sagtewaresteun en -dienste bygetel word styg dit tot omtrent R14- tot R20-biljoen per jaar.” Die openbare en private sektor in Suid-Afrika bestee ongeveer R48-biljoen per jaar aan sagteware- en hardewarebenodighede per jaar. 'n Skokkende 85% van dié bedrag gaan na oorsese maatskappye. Hierdie belaglike syfers dui op 'n morele kwessie – nie 'n geriefskwessie nie. Ntsika skroom nie om te erken dat dit pynlik is om na vrye sagteware oor te skakel en dat dit tyd, energie en werk kos nie. Maar in die lig van bogenoemde beramings is dit die enigste uitweg. Dwayne Bailey van Translate.org.za sê: “IT-bestuurders sê soms dat hulle die beste sagteware vir die taak gebruik, ongeag die koste. Maar ek dink dat dit belangrik is om te kyk na besigheid teen die agtergrond van die makro-ekonomie en die uitwerking van hulle besluite op die breër gemeenskap.” Hy verduidelik voorts dat Suid-Afrika elke jaar die potensiaal het om 'n lewendige, plaaslike sagtewarebedryf te skep maar dat ons dié geleentheid telkens deur ons vingers laat glip en voortgaan om die buitelandse IT-bedryf te steun. “Sien besighede en IT-mense hulleself nie as deel van die groter prentjie nie?” vra Dwayne, en vergelyk dan onverantwoordelike IT-gebruikers met onopgevoede brekers wat met hulle viertrekvoertuie op strande ry sonder om te dink aan plaaslike gemeenskappe, die ekosisteem of die toekoms van die gebied. Translate.org.za moedig mense aan om IT-aktiviste te word ~ moenie terugsit en kyk hoe Afrika ons innoverende en kreatiewe vermoëns opsy skuif ter wille van iemand anders se koninkryk nie. Sluit aan by die rewolusie! Daar is wel 'n massiewe jaarlikse verlies, maar nie te wyte aan roofgebruikers van sagteware nie. WORDFORGE BRING KAMBODJA EN SUID-AFRIKA BYMEKAAR Die span van Translate.org.za het oor die afgelope paar weke die aarde deurkruis ~ Ierland, Frankryk, Spanje ~ en dit alles in die naam van WordForge 'n internasionale organisasie wat ten doel het om digitaal bedreigde tale te help. WordForge is samewerking tussen Kambodja en Suid-Afrika in 'n unieke, onwaarskynlike vennootskap tussen twee nasies wat begin is deur twee mense met 'n visie om die gehalte van sagteware-lokalisering te verbeter. Javier Solá van Kambodja, wat die voortou geneem het met KhmerOS, en Dwayne Bailey van Suid-Afrika het in 2004 in Berlyn by 'n konferensie ontmoet. “Ons het voorheen aanlyn ontmoet,” sê Dwayne, “Javier het ons gereedskap gebruik en het begin om dit te dokumenteer, maar dit was tydens 'n reeks konferensies oor die aardbol heen dat ons begin praat het oor samewerking wat mense moontlik sal help om sagteware vir hulle omgewings te lokaliseer.” WordForge het fondse gekry by die Open Society Institute en die International Development Resource Centre (IDRC) om dié projek op dreef te kry. Debian, een van Vrye Sagteware se belangrike verspreidings stel daarin belang om dié gereedskap te gebruik, byvoorbeeld Pootle, wat deur WordForge (en Translate.org.za) ontwikkel is en vir lokalisering beskikbaar gestel is. Friedel Wolff, Translate.org.za se WordForge-programmeerder, en Javier het die Debian-lokaliseringskonferensie in Spanje bygewoon waar hulle met die Debian-span saamgetrek het om vennootskapsvorming te bespreek. “Hulle wou gedagtes uitruil en 'n behoefte-ontleding doen, en 'n idee kry van hoeveel nog gedoen moet word om aan hulle behoeftes te kan voldoen. Ek het hulle gehelp om 'n eksperimentele bediener vir lokaliseringsgereedskap op te stel,” sê Friedel. Dwayne het in Frankryk en Ierland WordForge se visie bekend gestel, en dit is essensieel om ander toe te rus om meer te kan doen om sagteware te lokaliseer, en dit is goed ontvang. Die sterk band tussen Javier in Kambodja en Dwayne in Suid-Afrika het daartoe gelei dat die onderskeie programmeerspanne saamwerk aan 'n vertaalbestuursprogram wat ander in staat sal stel om met lokaliseringsprojekte in hulle eie lande te begin. “Ek hou van die idee wat genoem word Blowback-lokalisering,” sê Dwayne. “Dit staan in kontras met die gedagte dat globalisering daaroor gaan dat die ontwikkelende wêreld van die sogenaamde ontwikkelde wêreld absorbeer. Ons skep gereedskap vir die ontwikkelde wêreld.” En of hulle dit besef of nie, enige gebruiker van OpenOffice.org en menige van Mozilla wat vertaal, gebruik reeds WordForge se gereedskap.
MEER OMTRENT ONS KONNEKSIES: LEER KEN ... Dwayne Bailey Dwayne, wat sy loopbaan begin het by 'n kernkragaanleg en toe vooruit gebeur het op die onbekende terrein van vertaling van sagteware in die tale van Suid-Afrika, se geskiedenis is interessant en vol verskeidenheid. Terwyl Dwayne 'n graad in Handelswetenskap (Inligtingstelsels) by die Universiteit van Kaapstad voltooi het, na kort periodes by die Kaapse Technikon en Koeberg-kragsentrale, het hy die Linux Warehouse opgerig. “Dit moes eintlik die Linux-skoenboks genoem word,” lag Dwayne, “want dit is nader aan die waarheid. Ek het eintlik net Linux-CD's uit 'n skoenboks aan die publiek verkoop.” Obsidian Systems, een van Suid-Afrika se toonaangewende Linux-pioniermaatskappye, het die maatskappy by hom gekoop en hom werk aangebied, wat daartoe gelei het dat hy die Kaapstadse Takbestuurder en later 'n Direkteur van die maatskappy sou word. Wat het daartoe aanleiding gegee dat hy begin het om sagteware in die plaaslike tale te vertaal? “Ek het gratis toegang gehad tot al hierdie verstommende sagteware en het besef dat dit miljoene werd is, en wou iets teruggee,” sê Dwayne. Dwayne was nie 'n programmeerder nie en het gewonder wat dié bydrae kon wees. Sy betrokkenheid by 'n kerk in Gugulethu waar die taal oorwegend Xhosa is, was die regte begin vir dit wat Suid-Afrika se toonaangewende lokaliseringsprojek sou word. Die finale hupstoot was 'n persverklaring deur 'n plaaslike Linux-maatskappy wat vermeld het dat hulle sagteware in Zulu vertaal. Dwayne het besef dit is nie waar nie en was woedend. Malende gedagtes het oorgegaan in aksie en hy het begin met die projek. Uit sy Obsidian-bemarkingsbegroting het hy 'n Xhosa-vertaler aangestel om die bal aan die rol te sit. Obsidian het hom baie goed gesteun en dit vir hom moontlik gemaak om sy droom te bewaarheid.
Mylpale op die pad was ondermeer die vroeë befondsing van die Shuttleworth-stigting in 2002, die bekendstelling van OpenOffice.org in 2004 in Zulu, Noord-Sotho en Afrikaans en die waagstuk om die veilige, prettige Obsidian te verlaat om sy aandag voltyds te wy aan Translate.org.za. “Die feit dat ek eintlik net Engels magtig is, het my aanvanklik laat terugdeins. Wat sou die mense sê? Die vent kan nie eers ons taal praat nie! Toe dink ek aan Emily Hobhouse, die Engelse dame wat tydens die Anglo-Boereoorlog in die konsentrasiekampe in Suid-Afrika gehelp het, en ek besef dat ek desondanks 'n bydrae kan lewer,” verduidelik Dwayne. As Dwayne nie besig is om Translate.org.za te koördineer, of om 'n aktivis te wees vir Vrye Sagteware en taal nie, hou hy daarvan om te stap om sy brein 'n blaaskans te gee, om te lees, DVD's te kyk en na die kerk te gaan waarby hy betrokke is. Hy woon in Pretoria saam met sy vrou en twee kinders en geniet hierdie opwindende groeifase van die projek, maar nie ten koste van sy gesin nie. “Ek bring graag tyd deur saam met my vrou en twee dogters. Soms beteken dit dat ek moet popspeel maar ek voel so seker van my manlikheid dat dit nie vir my 'n probleem is nie.”
BUL IN 'N GLASHUIS – (Dwayne Bailey) Noord-Sotho of Pedi? U het dalk al gehoor van 'n taal met die naam Noord-Sotho. Om die waarheid te sê, dalk het u gehoor dat dit Pedi genoem word deur baie mense wat sê hulle praat Noord-Sotho. Deurmekaar? Wel, miskien nie so deurmekaar en gefrustreerd soos al die mense wat Noord-Sotho praat maar nie Pedi nie. En u is nie alleen nie: selfs die Suid-Afrikaanse grondwet is deurmekaar! U vra dalk hoe een taal dan soveel name het. En dít is die werklike probleem: dit is nie een taal nie. Noord-Sotho probeer sowat 30 dialekte te omvat. Dink daaraan as die beursie wat 'n aantal goue munte saamhou. Die dominante dialek is Pedi, die taal wat gepraat word deur die Pedi's (Bapedi), maar dit is nie die enigste taal van Noord-Sotho nie. In die tussentydse grondwet van 1993 is daar korrek na die taal verwys as Noord-Sotho, maar in die finale grondwet van 1996 is dit verander na Pedi, wat in der waarheid verkeerd is soos wat vroeër aangedui is. Ons moet nog uitvind hoekom dit toe wel verander is. Was dit 'n verwarde komitee sonder taalkundige inset, of was dit 'n Pedi-spreker wat hulle eie saak probeer bevorder in die verwarring oor hulle taal? Wat die oorsaak ook al was, die verwarring wat geskep is, gaan teen die gees van die grondwet wat die bevordering van gemarginaliseerde Afrikatale aanmoedig deur self 'n situasie van marginalisasie te skep. Die dialekte van Noord-Sotho is gemarginaliseer en uitgesluit. Ons het nog nie genoem dat Noord-Sotho-sprekers aanstoot neem as mens hulle Pedi-sprekers noem nie - hulle praat nie Pedi nie. Die verwarring loop selfs dieper: staatsinstellings is nou ook deurmekaar met PanSAT wat Noord-Sotho bevorder terwyl Nasionale Taaldienste van Pedi praat. Die kern van die saak is dat Noord-Sotho die regte naam is van die moedertaal wat deur die grondwet bemagtig wou word. Pedi is bloot 'n dialek van Noord-Sotho en verteenwoordig nie die ganse Noord-Sotho-sprekersgroep nie. In Noord-Sotho word dié tale onderskeidelik Sesotho sa Leboa en Sepedi genoem. By Translate.org.za was ons vroeër inkonsekwent, maar nou gebruik ons slegs die term Noord-Sotho wat in lyn is met die tussentydse grondwet en met PanSAT, die organisasie wat tale moet bevorder en taalregte moet beskerm. Ons werk hard daaraan om nou die term Pedi te vermy. Daar is 'n ontluikende poging, waarvan Translate.org.za deel is, om aandag te skenk aan die benoeming van Pedi teenoor Noord-Sotho. As u, soos ons, sterk hieroor voel, sluit gerus by die poging aan. LAASTE SKOOT – Aanhaling van die maand “Dit is met groot trots dat ek 'n woordverwerker in my moedertaal gebruik. Om jou rekenaar in jou moedertaal te gebruik, bring waardigheid en motivering. Dit stel my op gelyke voet met ander sogenaamde eerstewêreld-tale. Vanweë julle onbesproke werk het die inheemse Afrika-tale positief aangepas en byderwets gebly.” Thembalihle Sidaki in 'n e-pos aan Translate.org.za. | 




|