Tuis arrow Press Releases arrow Vrye Afrikaanse speltoetser vrygestel vir Afrikaanse webblaaier en e-posprogram
Vrye Afrikaanse speltoetser vrygestel vir Afrikaanse webblaaier en e-posprogram

Suid-Afrika, 19 Julie 2007: Translate.org.za, die bekroonde organisasie wat sagteware vertaal, kondig met trots die beskikbaarheid aan van 'n gratis en vry speltoetser vir die webblaaier Mozilla Firefox en die e-posprogram Mozilla Thunderbird.

'n Speltoetser wat help terwyl mens tik, laat gebruikers met selfvertroue webgebaseerde forms invul en e-pos skryf. Die speltoetser werk met die bekroonde, vrye en gratis webblaaier Mozilla Firefox en e-posprogram Mozilla Thunderbird. Die speltoetser bevat meer as 170 000 woorde wat deur toegewyde individue versamel is sedert die 1980’s en wat sedert 2004 deur Translate.org.za opgedateer en onderhou is.

Translate.org.za is ’n organisasie sonder winsbejag wat fokus op die verskaffing van Vrye Sagteware in plaaslike tale. In 2006 het hulle die African ICT achievers award gewen vir oorbrugging van die digitale gaping en vir die leidende rol in die verskaffing van speltoetsers, sleutelborde en programvertalings in plaaslike tale. Danksy hulle werk is Firefox die enigste webblaaier wat beskikbaar is in al elf amptelike tale van Suid-Afrika.

Die vrystelling van hierdie Afrikaanse speltoetser bou voort op die onlangse amptelike vrystelling van die webblaaier Firefox in Afrikaans en help skep aan 'n groeiende Afrikaanse sagteware-omgewing deur middel van Vrye Sagteware. Dieselfde speltoetser is ook beskikbaar in die Afrikaanse weergawe van die gratis en vry kantoorsuite OpenOffice.org.

Die bou van 'n speltoetser neem heelwat tyd aangesien woorde versamel, nagegaan en gevalideer moet word, en laastens dan by die speltoetser gevoeg moet word. Elke opdatering voeg nuwe woorde by asook eienskappe om die voorstelle te verbeter. Direkteur, Dwayne Bailey sê: “Dit kos R250 000 per jaar om ons Afrikaanse speltoetser te verbeter en op te dateer. Ons wil natuurlik ook die kwaliteit van ons speltoetsers vir ander Afrikatale verbeter.” Fondse word gegenereer deur Translate.org.za se ondersteuningsprogram waar maatskappye en individue wat omgee vir taal en toegang tot tegnologie uitgenooi word om aan te sluit.

Die nuutste weergawe van die speltoetser kan gratis afgelaai word vanaf:
http://www.mozilla.com/firefox/all.html

EINDE


Friedel Wolff van Translate.org.za is beskikbaar vir onderhoude. Sy spesialiteitsvelde sluit in:

  • Vrye en Oopbronsagteware

  • Veeltaligheid

  • Sagtewarevertaling

  • Voorspraak vir taalregte

     

Vir meer inligting of om 'n onderhoud te reël, kontak gerus:

Friedel Wolff (012) 460-1095 of Dwayne Bailey (083 443 7114)

 
 
< Vorige   Volgende >